Wednesday, 21 February 2007

Huisgenoot-Hannelie en De la Rey se spook
Geskryf deur Dan Roodt (Sorry Dan, maar dis te goed om nie met almal te deel nie.)

Verlede week braak twee Huisgenoot-joernaliste gal oor Bok van Blerk en die mense wat gaande oor sy De la Rey-liedjie is. Die Euromasochis Hannelie Booyens wat iewers jammer is dat sy nie een van Amy Biehl se ouers kon wees wat haar dogter se moordenaars uit Gugulethu eers kon vergewe en toe in diens kon neem nie, kry koue rillings as sy ‘n stillerige jong ondersteuner by Bok se konsert raaksien.

“Dis die Wit Wolf!” mymer Huisgenoot-Hannelie. En, skryf sy op bladsy 22 van die grootste Afrikaanse gesinstydskrif wat vandeesweek, wonder bo wonder, geen gemengde paartjie op die voorblad het nie: “Dis ouens soos hy wat laatnag op webtuistes komplotte smee om die regering omver te werp en volksvreemdes uit die weg te ruim.

”Ek moet sê, Huisgenoot-Hannelie het nogal ‘n humorsin. Sy noem ministers Manto en Nqakula en Xingwana en die res waaroor Blou Willem op Maandae in Beeld grappies maak ‘n “regering”.

Bok van Blerk, moet ons toegee, het nie net ‘n rekord aantal CD’s verkoop nie; hy het ook kiloliters ink vanuit die bekommerde hoofkwartier van denkbeheer by Heerengracht 40, Kaapstad, laat vloei. Nie verniet lyk die Naspershoofkantoor soos ‘n blok woonstelle in Moskou wat deur een van Josef Stalin se persoonlike argitekte in die vyftigerjare ontwerp is nie, want hier word eenvormige denke op prys gestel.

Maar alles is nie wel in die ruwe Suid-Afrika nie. Skielik is daar te veel Afrikaanse liedjies, te veel kunstefeeste, te veel skole soos Ermelo wat weier om stil-stil te verengels, te veel oranje-blanje-blou vlae wat plek-plek uitgehaal word.

Soos ons weet, is die geskiedenis besig om homself te herhaal.Ná die Tweede Vryheidsoorlog, soos ná 1994, was almal veronderstel om Engels te wees en in Engels skool te gaan. Toe William Nicol in 1917 voorstel dat Johannesburg ‘n Afrikaanse hoërskool kry, het The Star bytend uit Shakespeare se Hamlet aangehaal: there’s something rotten in the state of Denmark.

Huisgenoot-Hannelie en haar handlanger, ene Sieraaj Ahmed, bespeur insgelyks “iets wat stink in die ruwe Suid-Afrika”. Die heer Ahmed – miskien neem hy aanstoot aan so ‘n Eurosentriese aanspreekvorm en moet ek hom eerder ajatolla Ahmed noem – word skoon flou toe hy die ou landsvlag sien. Hy kry hartkloppings van die “simbool van verdrukking” soos hy dit noem. Asof die motgevrete moord-en-roofvlag wat tans vuil en verwaarloos bokant polisiestasies druip ons met ‘n besonderse gevoel van veiligheid vervul. Dis nou die plekke waar manne in blou so graag omkoopgeld aanvaar - as hulle nie die dag siek is of sommer net in die tuig snork soos hulle slaap nie.

Die spook van De la Rey wat iewers oor die vlakte aangery kom op die maat van Bok van Blerk se liedjie is besig om, soos die spook van Hamlet, konsternasie by die howelinge en veral die lakeie te veroorsaak. Ons kan selfs vir Karl Marx, ‘n skrywer wat Huisgenoot-Hannelie en die hele horde linkse na-apers en napraters sal waardeer, aanhaal: “‘n Spook goël by die hele Europa.” Kennelik boesem die spook van Koos de la Rey en ‘n herrese Afrikanervolk wat nie meer skaam vir sy geskiedenis, taal en identiteit is nie, vrees in.

Vandaar ook die tydelike verbod op Bok van Blerk se liedjie by Loftus wat oor die naweek afgekondig is en toe weer opgehef is. Die bestuur by Loftus kla oor die “politieke inhoud” van die lied en beskou dit as omstrede. Hoe meer omstrede dit word, hoe meer mense gaan egter daarna luister. Die jeug en Bok de la Rey het deur al die politiek korrekte skanse van die ruwe Suid-Afrika gebreek. Niks kan hierdie opwelling van Afrikaner-sentiment meer stuit nie.

Daarom: Moenie bekommer nie, Hannelie. Ek is seker daardie “jong lat” en sy vriende by Bok se konsert gaan jou nie met klippe gooi of met messe steek soos Amy Biehl se voorbeeldige jong moordenaars nie. Hulle mag jou net van jou hang-ups oor ‘n sg. “verregse jeug” bevry.

No comments: